27.4 C
Johannesburg
Thursday, February 6, 2025

VOORMALIGE MEJ. HEELAL, MARGARET GARDINER, SE NUWE BOEK KRY 5-STER RESENSIES WÊRELDWYD!

Must read

Margaret Gardiner se nuwe boek, die eerste in ’n reeks, Damaged Beauty: Joey Superstar, is in die VSA en VK bekendgestel en het reeds wêreldwyd lof ontvang met 5-ster resensies.

Margaret Gardiner kry dit reg om op ’n meesterlike wyse oomblikke van hartseer met straaltjies hoop te kombineer, wat Joey se reis van selfontdekking ’n diep emosionele ervaring maak waarmee mense kan vereenselwig. Hierdie is die eerste boek in die reeks, en ek sien met opgewondenheid uit na toekomstige aflewerings wat ander karakters in hierdie storie sal verken. Alhoewel die boek maklik lees, lig dit belangrike waarhede uit oor die wêreld agter die skerms en die stryd om van slagoffer na oorwinnaar te transformeer. Gardiner deel haar persoonlike ervarings in die mode- en skoonheidsbedryf asook haar kennis van sielkunde in haar skryfwerk. Hierdie boek is inspirerend en herinner ons daaraan dat skoonheid nie net gaan oor hoe jy lyk nie, maar iets is wat in elkeen van ons lê. Selfs pragtige mense kan van binne lelik voel en moet leer om hulself te aanvaar vir wie hulle regtig is – binne en buite. ’n Uitstekende boek, veral vir ouer tieners wat gek is oor beïnvloeders. – Doreen Chombu vir Readers’ Favourite

Hoewel Joey in haar twintigs is, het haar storie ’n amperse “coming of age”-gevoel. Dit speel af in die glans en glorie van Los Angeles, met verwysings na première-aande en partytjies, maar die boek fokus hoofsaaklik op karakterontwikkeling. Dit is ’n diep, karaktergedrewe verhaal oor ’n lewe buite die verblindende kollig – met ’n brose hoofkarakter waarvoor jy nie anders kan as om empatie te hê nie, selfs wanneer sy selfvernietigend optree. – Charlotte Walker, Love Reading – UK

Gardiner vang die glans van die modebedryf vas terwyl sy die donker realiteit agter die flitsende kameras ontbloot – verraad, misleiding en ’n desperate soeke na verbintenis. Die roman se grootste krag lê in sy boeiende karakters en emosionele diepte. Omdat Joey so maklik is om mee te vereenselwig en ’n mens met foute is, vind haar storie aanklank by enigiemand wat al verwerping ervaar het of gesukkel het om hul eie waarde te bepaal. Gardiner se skryfstyl is filmies en vang die hoogtepunte en laagtepunte met rou eerlikheid vas. Die egtheid van Joey se stryd maak hierdie boek ’n onvergeetlike leeservaring. Damaged Beauty is perfek vir lesers wat van karaktergedrewe stories en emosionele verhale van menslike veerkragtigheid hou. – Zahid Sheikh vir Readers’ Favorite

Terwyl sy haar suksesvolle internasionale vrystelling vier, het Margaret onlangs ook die Golden Globe-toekennings in Los Angeles bygewoon, waar sy geprys is vir haar bydrae tot die modebedryf en haar unieke perspektief as ’n voormalige skoonheidskoningin wat ’n stylgesagsfiguur geword het. Die Golden Globes is gehou enkele dae voor die stad in chaos verval het weens onvoorsiene veldbrande. Gardiner moes verskeie kere gereed maak om te ontruim. Die brande in Los Angeles was vir ’n groot uitdaging, omdat sy haar professionele verpligtinge moes balanseer met persoonlike veiligheid, terwyl sy probeer het om sterk en gefokus te bly gedurende hierdie beproewing. Sy sal ook die Oscars op 2 Maart 2025 bywoon.

Gardiner deel meer oor die ervaring: “Dit was ’n angswekkende tyd, en ek was omring deur chaos en onsekerheid. Dit het my egter meer vasberade gemaak om getrou te bly aan my werk en my waardes. Die onvoorspelbaarheid van die natuur het my herinner aan die belangrikheid daarvan om jouself te anker te midde van teëspoed.”

Buiten vir haar werk in die modebedryf, het die skoonheid ook ’n passievolle voorstander geword vir geestesgesondheid en liggaamspositiwiteit. Onlangs het sy haar stem dik gemaak oor die impak van kuberafknouery, veral omdat sy self die teiken daarvan was op sosiale media. Sy doen ’n beroep op groter bewustheid en aksie om aanlyn wreedheid hok te slaan – ’n saak wat haar veral na aan die hart lê.

“Ek het nog altyd geglo dat skoonheid meer as net oppervlakkig is, maar sosiale media dwing ons dikwels om onmoontlike standaarde na te streef,”Margaret. “Niemand behoort wreedheid of haat te ervaar bloot omdat hulle hulself uitdruk of in die kollig leef nie. Ons moet saamwerk om ’n meer positiewe aanlyn gemeenskap te skep.”

Na baie afwagting, berei Gardiner haar ook voor vir die vrystelling van haar boek in Suid-Afrika. Die boek (in beide Afrikaans en Engels) word op 10 Maart 2025 amptelik bekendgestel in Suid-Afrika en sy sal Johannesburg, Pretoria en Kaapstad besoek vir ’n reeks bemarkingsgeleenthede, boektekensessies en ’n mediatoer.

“Ek is opgewonde om my storie met my Suid-Afrikaanse aanhangers te deel – in ’n land wat ek baie liefhet,” sê sy.  “Hierdie boek gaan oor hoe ons die uitdagings oorkom wat ons vorm en hoe ons innerlike krag vind te midde van ons diepste struwelinge.”

Die Afrikaanse uitgawe word uitgegee deur Naledi, en beide die Afrikaanse en Engelse weergawes word deur Naledi in Suid-Afrika versprei.

“’n Groot dag het aangebreek vir Naledi. Om Margaret Gardiner se eerste internasionale roman uit te gee, is ’n belangrike mylpaal vir ons. Beide die Engelse en Afrikaanse weergawes verskyn in Maart in Suid-Afrika en sal gepaardgaan met haar besoek aan die land – ’n groot hoogtepunt in ons publikasieprogram,” sê Johan Coetzee, uitvoerende hoof van Naledi.Meer oor Margaret Gardiner:
Margaret Gardiner is in Suid-Afrika gebore en is ’n bekende moderedakteur, voormalige mej. Heelal en ’n voorstander vir geestesgesondheid en liggaamspositiwiteit. Sedert sy in 1978 as mej. Heelal gekroon is, het sy haar platform gebruik om bewustheid te skep oor kwessies soos aanlyn afknouery, geestesgesondheid en die druk van ’n lewe in die kollig. Sy bly ’n invloedryke stem in die mode- en skoonheidsbedryf en bied ’n unieke perspektief op selfbemagtiging en veerkragtigheid.

- Advertisement -

More articles

- Advertisement -

Latest article