20.2 C
Johannesburg
Thursday, March 6, 2025

DE WALS VAN DE LIEFDE – JANNIE DU TOIT SING 30 JAAR LATER WEER IN NEDERLANDS BY DIE KKNK!

Must read

Jannie du Toit en Christa Steyn het by die heel eerste KKNK in 1995 met hulle legendariese program DE KLEINE MAN – saamgestel deur Ilse van Hemert – gedebuteer. By dieselfde fees was hulle Koos Doep-produksie SKADU’S TEEN DIE MUUR saam met Marié du Toit ook op die planke.

Jannie het sedertdien al talle kere by die KKNK opgetree, maar vir die eerste keer sedert DE KLEINE MAN bied hy vanjaar weer ‘n volledig Nederlandstalige produksie aan. By sy konserte is daar altyd weer versoeke vir die “Hollandse” liedjies van kunstenaars soos Brel, de Corte, Van Veen, Robert Long en Urbanus. In DE WALS VAN DE LIEFDE kry musiekliefhebbers nou die geleentheid om al Jannie se “toppers”, soos die Nederlanders dit noem, in een program te hoor.

Die program bevat hoogtepunte uit die bloeitydperk van die twintigste eeuse Nederlandse kleinkuns en die gevierde Nederlandse sanger, Toon Hermans, is die skrywer van die titellied. Die ryk erfenis van uitdrukkingskrag, wysheid en gevatheid van die Nederlandse taal soos vasgevang in tekste, akkoorde, ritmes en wysies, kortom in liedjies, is vir Jannie steeds ‘n groot bron van inspirasie. Hy het die volledig Nederlandse vertaling van Marieke wat deur Jacques Brel self gesing is opgediep vir die nuwe produksie. Dit is na alle waarskynlikheid die eerste keer dat dié weergawe op ‘n Suid-Afrikaanse verhoog gehoor word.

Jannie bied die liedjies vars aan met begeleiding op klavier en alt-saxofoon deur Marcel en Deryn Dednam, wat in 2021 pryswenners in Jannie en die ATKV se ‘N NUWE BAADJIE-kompetisie was. Marcel is bekend as begeleier vir Nataniël, Anna Davel, Leon Gropp en andere en sy vrou Deryn is soos hy lid van verskillende jazz-ensembles en begelei saam met hom ook vir Anna Davel.

DE WALS VAN DE LIEFDE word op 1 April (13h00) en 2 April 2025 (16h30) in die Banketsaal by die KKNK aangebied. Vir besprekings: https://www.webtickets.co.za/v2/event.aspx?itemid=1558342348

- Advertisement -

More articles

- Advertisement -

Latest article