Margaret Gardiner se splinternuwe boek, het pas Exclusive Books se lys van topverkopers betree. Beide die Afrikaans en Engelse weergawes, BEDORWE SKOONHEID: JOEY SUPERSTER/DAMAGED BEAUTY: JOEY SUPERSTAR, is tans onder die Top 10 verkopers in verskeie Exclusive Books winkels.
Hierdie uitmuntende prestasie volg skaars ’n paar weke ná die titel se amptelike bekendstelling tydens ’n glansgeleentheid in Pretoria en sy is absoluut in ekstase oor dié prestasie.
“Dit is ‘n absolute wonderlike voorreg en ek is so bly dat soveel mense die boek geniet. Ek hoop elke persoon wat die boek lees, kry insig uit die boodskap,” sê sy oor hierdie besonderse eer wat haar te beurt geval het.
Nadat die boek in die VSA en VK bekendgestel is, het dit ook groot opslae gemaak en uit die staanspoor 5-ster resensies ontvang.
BEDORWE SKOONHEID: JOEY SUPERSTER is ’n kragtige verhaal, wat diep delf in die onvertelde uitdagings waarmee vroue gekonfronteer word en sal lesers nie net boei nie, maar ook stof tot nadenke gee.
Dis meer as net fiksie, dis ’n verhaal wat lig werp op kwessies wat dikwels in die skaduwees bly. Met haar unieke perspektief en besonderse vertelvermoë spreek Gardiner hierdie temas aan op ’n manier wat beide boeiend en indrukwekkend is.
Margaret het oorspronklik bekendheid verwerf as die eerste Suid-Afrikaner om as mej. Heelal gekroon te word en het jare spandeer aan die bevordering van vroueregte en sosiale geregtigheid –wat van haar nuwe boek ’n natuurlike uitbreiding van haar lewenswerk maak.
Sy woon tans in Los Angeles in die VSA, waar sy gereeld toekennings- en ander spoggeleenthede bywoon en haar platform gebruik om bewustheid te skep oor kwessies soos aanlyn afknouery, geestesgesondheid en die druk van ’n lewe in die kollig.
BEDORWE SKOONHEID: JOEY SUPERSTER is aanlyn beskikbaar by: https://naledi.co.za/product/bedorweskoonheid/ of by uitgesoekte boekwinkels reg oor die land.
Die Afrikaanse uitgawe word uitgegee deur Naledi, en beide die Afrikaanse en Engelse weergawes word deur Naledi in Suid-Afrika versprei.