21.1 C
Johannesburg
Monday, January 20, 2025

Die Gelofte

Must read

DIE GELOFTE: ‘N MUSIEKBLYSPEL VIER 50STE KONSERT!

Inhoud Huis Musiek, in samewerking met AfriForum, se gewilde verhoogproduksie, DIE GELOFTE: ‘N MUSIEKBLYSPEL, wat nou reeds vir ‘n derde rondte op die planke is by die AfriForum Teater, is op Sondag 11 September 2022 vir die 50ste keer opgevoer.

Almal wat betrokke is, voor en agter die skerms, is in ekstase oor hierdie mylpaal en het ná die vertoning bymekaar gekom om foto’s saam met die gehoor te neem en die geleentheid met sjampanje en kolwyntjies te vier.

“Voor die vertoning het ons almal saam gesit en het Johan en Jacomien kans gekry om te deel wat die Gelofte vir hulle elkeen persoonlik beteken,” deel Jannes Erasmus wat die draaiboek en regie behartig van dié geskiedkundige stuk.

Sedert dié musiekblyspel wat die gebeure voordat Die Gelofte tydens die Slag van Bloedrivier afgelê is volg, met musiek en lirieke deur Johan Vorster en Jacomien de Wet, in Mei sy buiging gemaak het, het dit nog net van krag tot krag gegaan en stroom die gehoor steeds in vir elke vertoning.

“Ons gehoor is met elke konsert ons BBP’s. Die sukses van hierdie produksie het ons verwagtinge oortref en ons is dankbaar dat duisende mense dit kon sien,” sê Jacomien.

Johan en Jacomien het ook nog lank nie klaar gedroom nie en is reeds besig met die afrondingswerk aan nog ‘n musiekblyspel wat vir die nabye toekoms beplan word.

DIE GELOFTE: ‘N MUSIEKBLYSPEL is ‘n emosiebelaaide, gesinsvriendelike Afrikaanse liefdesverhaal wat in oorlogstyd afspeel en ons afhanklikheid van mekaar en God simboliseer.

Wanneer Aimee en Ali, twee hoërskool-dramastudente, ‘n kis briewe onder in die teater se kelder ontdek, leer ken hulle die verhaal van Sarel Cilliers (en die Voortrekkers) wat saam met sy gesin oor die Drakensberge trek na die beloofde land. ‘n Liefdesverhaal ontvou ook tussen twee jongmense wat skynbaar ‘n onmoontlike gelukkige einde kan hê.

Buiten vir die puik bestuur- en kreatiewe span agter die projek, spog hierdie verhoogstuk ook met ‘n sterbelaaide rolverdeling in die musiek- en teaterbedryf waaronder Johan Vorster (trefferliedjieskrywer en vervaardiger van De la Rey, Pa en Seun, Eendag as ons Groot is, Swart Koffie, Skepe, Nonna, Net voor die Storm kom, en vele meer), Nadia Beukes, Bernice West, Eddie de Jager, Zöricke Snyman, Jacomien de Wet en nuweling Ilán van Staden.

Die radiotreffer, Soen My Op My Mond, ‘n duet tussen Bernice en Ilán is ook uit die hierdie verhoogstuk gebore en is ‘n gunsteling onder oud en jonk.

Volgens Machiel Roets, wat onder andere Pretville geskryf het, meen daar is baie redes om DIE GELOFTE: ‘N MUSIEKBLYSPEL te gaan kyk as jy nog nie het nie.

“Ek kan prys gee vir almal deel van die produksie. Jannes Erasmus het die teks soos ‘n verligte nuwe dominee hanteer en nie geskroom om van sy hart se oortuiging weg te bly nie, nog minder van die komiese alledaagse menslike stuitigheid en stoutigheid. Johan Vorster se stem is ongelooflik en sy toneelspel skeep glad nie af nie. Jacomien is ongelooflik talentvol en Nadia het soos altyd my hart gesteel. Die jongspan het my totaal en al verbaas met hulle gemak op die verhoog en die produksie en tegniese span staan vir niks terug nie. Die stel, klank en beligting is uitmuntend.”

Diegene wat nog nie kans gehad het om DIE GELOFTE: ‘N MUSIEKBLYSPEL te beleef nie, kan hier klik om kaartjies te koop. Daar is nog net 12 konserte oor en dit raak vinnig vol, so bespreek nou jou sitplek om teleurstelling te voorkom!

SOSIALEMEDIASKAKELS:

AfriForum Teater

Facebook: https://www.facebook.com/afriforumteater

Instagram: @afriforumteater

Webwerf: www.afriforumteater.co.za

- Advertisement -

More articles

- Advertisement -

Latest article