16.3 C
Johannesburg
Thursday, January 23, 2025

Kyle September Stel ’N Goedvoel Somersliedjie Vry

Must read

Dela Wordsmith
Dela Wordsmithhttps://holylandexperience.com/situs-slot-gacor/
Dela Wordsmith is an editor and content marketing professional at Binary Means, an email marketing and sales platform that helps companies attract visitors, convert leads, and close customers.
Kyle September Stel ’N Goedvoel Somersliedjie Vry

As jy lus is vir ’n prettige goedvoel-liedjie om die somer mee af te skop, gaan jy mal wees oor Kyle September se nuwe enkelsnit, SWEETNESS.

Hierdie polsende popsnit, met lirieke wat jou uitnooi om saam te sing, gaan oor die gevoel wat jy kry wanneer jy daardie iets – wat nie woorde of dade nodig het nie – in iemand anders vind wat jou gelukkig en veilig laat voel.

Die idee vir die liedjie, wat deur Kyle geskryf is, het ’n ongewone oorsprong. “Ek was op toer in Botswana saam met my musikant-vriend, Lindo M. Een oggend het ons gaan ontbyt eet. Ons het toevallig vir mekaar gekyk op presies dieselfde oomblik as wat ons albei ’n hap van ons kos gevat het. Ek vra hom toe wat so spesiaal is omtrent hierdie situasie. Sy antwoord was dat dit gaan oor daardie soet samesyn in die lewe,” verduidelikKyle.

Related Post:

“Lindo het my voorheen vertel van die idee om algemene sêgoed as inspirasie te gebruik en ek het geluister. Ek het uitgebrei op die konsep en woorde gebruik om daardie onbeskryflike x-faktor vas te vang wat lewensmaats in mekaar vind… daardie spesiale iets wat anders is as in hulle vorige verhoudings.”

Buiten vir die feit dat hierdie goedvoel-liedjie luisteraars beslis in ’n vakansiebui gaan plaas, is dit vir Kyle ook spesiaal omdat dit die tipe musiek is wat hy nog altyd wou uitbring. “Ek is mal oor die gevoel van die snit! Ek wou nog altyd ’n liedjie skryf met ’n vakansiegevoel, wat mense by partytjies kan speel. Vanuit ’n musikale oogpunt, is SWEETNESS die eerste liedjie wat ek uitgereik het nadat ek my ware klank ontdek het. Dit is ’n besonderse kunswerk wat my ware identiteit as musikant weergee.”

Dit is ’n belangrike mylpaal in dié sanger en liedjieskrywer, wat al vir tien jaar in die musiekbedryf werk en versot is op musiek vandat hy kan onthou, se loopbaan. “Ek was al lief vir musiek van voordat ek gebore is. My pa het vir my kitaar gespeel en gesing terwyl my ma swanger was. Hy het ook gereeld video-opnames van konserte gespeel,” verklapKyle. “My pa het my geleer kitaarspeel toe ek twaalf was en kort daarna het ek begin liedjies skryf en sing.”  

As tiener, was Kyle deel van die kerk se jeugmusiekgroep. Dit het, volgens die kunstenaar, ’n groot impak op hom gehad en was een van die belangrikste fases van sy musiekloopbaan.

Kyle het verder ook die baskitaar, dromme en klavier bemeester voordat hy ingeskryf het by die Wits School of Arts. “My ouers het daarop aangedring dat ek rekeningkunde moet gaan studeer, maar teen my tweede jaar was ek sielsongelukkig sonder my musiek. Ek het opgeskop en besluit om eerder ’n Musiekgraad te doen. Alhoewel dit heeltemal moontlik is om ’n suksesvolle musikant te wees sonder ’n formele kwalifikasie, was ek honger vir meer kennis oor hierdie onderwerp waaroor ek so passievol is. Hy het in 2016 sy honneursgraad in Musiek verwerf.

Hy sonder sy optrede by Afriski, ’n openingsvertoning vir Francois van Coke by die Misty Waters-fees, en om saam met Graeme Watkins ’n aanlynvertoning te hou gedurende grendeltyd as van die grootste hoogtepunte van sy loopbaan sover. “Ek het nog altyd daaroor gedroom om in ander lande op te tree. Dit het letterlik vir my gevoel asof ek vir die hele Afrika sing tydens my optrede by Afriski, op die hoogste punt van die Malutiberge. Dit was vir my ’n baie spesiale oomblik.”

Wanneer hy nie besig is met musiek nie, geniet hy dit ook om sport te doen. “Ek is altyd ’n musikant wat oor musiek dink. Die enigste tyd wanneer ek regtig afskakel is wanneer ek aksiekrieket en vyfman-sokker speel saam met my vriende. Dit is vir my baie belangrik om weekliks op hierdie manier te ontspan.” Hy is ook al sedert 2009 ’n deeltydse sokkerafrigter.

As jy hom vra waar die inspirasie vir sy musiek vandaan kom, is sy antwoord eenvoudig: “Ek word geïnspireer deur die lewe. Die wêreld het stories om te vertel en ek is altyd besig om te luister, sodat ek dit kan doen.” Hy voeg by: Ek hou van musiek, omdat dit die enigste taal is waarvan jy geen kennis hoef te hê om die betekenis te verstaan nie. Al moet musikante leer om liedjies te skryf en te komponeer, het luisteraars nie nodig om enige kennis van die onderwerp te hê om te weet waaroor dit gaan nie. Dis vir my lekker om met mense te praat deur middel van my talent.”  

SWEETNESS bied ’n unieke mengsel van goedvoel-pop, ligte jazz en ’n strelende stem om bewonderaars feestelik te laat voel. Hierdie enkelsnit gaan nie net ’n kreet word vir die somer nie, maar is ook die perfekte manier om die volgende hoofstuk van Kyle se loopbaan mee af te skop.

Laai die enkelsnit hier af: https://smarturl.it/KyleSepSWEETNESS

SOSIALEMEDIASKAKELS
Facebook: https://www.facebook.com/kyleseptembermusic
Instagram: www.instagram.com/kyleseptember
YouTube: https://www.youtube.com/channel/UCMRJAZoFz1sGbFqrxfO6cdA

- Advertisement -

More articles

Post a Comment

- Advertisement -

Latest article