Op 10 Maart 2025 het die oomblik waarna aanhangers al maande lank uitsien uiteindelik aangebreek.
Margaret Gardiner se splinternuwe boek, BEDORWE SKOONHEID: JOEY SUPERSTER (ook beskikbaar in Engels as DAMAGED BEAUTY: JOEY SUPERSTAR), is amptelik bekendgestel tydens ’n glansgeleentheid by Maroela Media se kantore by die Voortrekkermonument in Pretoria.

Dié bekendstelling was ’n reusesukses en is deur ’n handjievol uitgesoekte gaste, waaronder die media asook talle bekendes soos Nadine, Diaan Daniels, Lebohang Raputsoe, Liane Heyl en Werner Wessels, bygewoon. Gaste is met wyn van die gewilde Van Loveren-wynlandgoed bederf terwyl Gardiner oor die inspirasie agter die boek gesels het.
Laai foto’s van die bekendstelling hier af: https://www.dropbox.com/scl/fo/52mbatcaeungbmc9x9aog/AICGvLRvVfvbQaV_irQAM-o?rlkey=1a1fufdnn80z7awbvga6ozf0g&st=kdgl0ro3&dl=0
BEDORWE SKOONHEID: JOEY SUPERSTER is ’n kragtige verhaal, wat diep delf in die onvertelde uitdagings waarmee vroue gekonfronteer word en sal lesers nie net boei nie, maar ook stof tot nadenke gee.
Dis meer as net fiksie, dis ’n verhaal wat lig werp op kwessies wat dikwels in die skaduwees bly. Met haar unieke perspektief en besonderse vertelvermoë spreek Gardiner hierdie temas aan op ’n manier wat beide boeiend en indrukwekkend is.
“Hierdie is ’n storie wat vertel moes word en ek is opgewonde om dit met my Suid-Afrikaanse aanhangers te deel – in ’n land wat ek baie liefhet,” deel sy. “Dit gaan oor hoe ons die uitdagings oorkom wat ons vorm en hoe ons innerlike krag vind te midde van ons diepste struwelinge.”
Nadat die Engelse weergawe vroeër vanjaar reeds in die VSA en VK bekendgestel is, het dit reeds groot opslae gemaak en 5-ster resensies ontvang.
Die Afrikaanse uitgawe word uitgegee deur Naledi, en beide die Afrikaanse en Engelse weergawes word deur Naledi in Suid-Afrika versprei.
Margaret het oorspronklik bekendheid verwerf as die eerste Suid-Afrikaner om as mej. Heelal gekroon te word en vier vanjaar die 47ste herdenking van hierdie historiese mylpaal.
As ’n gerespekteerde joernalis en voormalige mejuffrou Heelal het Gardiner jare spandeer aan die bevordering van vroueregte en sosiale geregtigheid, wat van haar nuwe boek ’n natuurlike uitbreiding van haar lewenswerk maak.
Sy woon tans in Los Angeles in die VSA, waar sy gereeld toekennings- en ander spoggeleenthede bywoon.
Sedert sy in 1978 as mej. Heelal gekroon is, het sy haar platform gebruik om bewustheid te skep oor kwessies soos aanlyn afknouery, geestesgesondheid en die druk van ’n lewe in die kollig. Sy bly ’n invloedryke stem in die mode- en skoonheidsbedryf en bied ’n unieke perspektief op selfbemagtiging en veerkragtigheid.
BEDORWE SKOONHEID: JOEY SUPERSTER is aanlyn beskikbaar by: https://naledi.co.za/product/bedorweskoonheid/ of by uitgesoekte boekwinkels reg oor die land.