27.2 C
Johannesburg
Wednesday, January 22, 2025

Skemer – Lig Die Dak

Must read

Skemer – Lig Die Dak

Na die suksesvolle uitreiking van hul debuutenkelsnit, SÊ DIT HARDER, is Skemer terug op die toneel met ‘n nuwe country-pop enkelsnit, LIG DIE DAK, wat jou voete behoorlik sal laat jeuk.

LIG DIE DAK is ‘n goedvoelliedjie wat veral jongmense daaraan herinner dat jou jeug nie blywend is nie, dat jy elke oomblik moet aangryp en ten volle moet geniet. Op die ou end is herinneringe al wat jy gaan oorhou wanneer jy oud is. Daarom nooi Skemer alle jongmense om bietjie te ontspan en te dans voor dit te laat is.

Behalwe dat die lied jou lus sal maak om te dans, sal dit ook jou verbeelding prikkel en jou terugneem in tyd na ‘n ouderwedse plaasskuur waar die gemeenskap ‘n groot makietie hou.

LIG DIE DAK is geskryf en vervaardig deur Hugo Ludik van Muse Studios. Die lied se vrolike vioolspel sal jou sommer dadelik in die regte dansbui kry.

Armand en Andrea Espach is die lede van Skemer. Dié twee se paaie het op Facebook gekruis en sederdien is hul lewe saam een groot avontuur. Hul gemeenskaplike liefde vir musiek het later ontwikkel tot ‘n liefde vir mekaar.

Die twee verduidelik hulle doelwit is om musiek te maak wat jou in ‘n goeie bui sal kry, maar wat ook lirieke met betekenis het. “Ons wil musiek maak wat sin maak, al is dit ‘n kuier- of goedvoelliedjie, of selfs iets wat bietjie dieper is.”

Hul loopbaan tot op hede is bloot die begin vir Skemer. Hul grootste droom is om eendag op die verhoë van Nashville op te tree, maar tot dan is hulle hard aan die werk om seker te maak dat Suid-Afrika weet wie Skemer is.

LIG DIE DAK is ‘n liedjie wat vir nog lank op die speelyste van troues en gesellighede gaan wees. Ons beveel aan dat jy so gou as moontlik die lirieke leer, sodat jy kan saamsing wanneer hierdie treffer aan die beurt kom.

Met die woorde van die bekende countrylegende, John Denver: “Ek wens jongmense kan die waarde van hul jeug verstaan,” wil Skemer elke jongmens herinner dat dit nou die tyd is om te dans, want more is dit dalk te laat.

LIG DIE DAK is beskikbaar op alle digitale platforms.

PLATEMAATSKAPPY

TEL: 011 823 1771 / 011 823 1772

E-pos: [email protected]

Webblad: www.vonk.co.z

- Advertisement -

More articles

- Advertisement -

Latest article